skip to content

Site in English

Facebook Icon

Klik hier om by Storietyd aan te sluit.

Kinders wat sukkel om te lees, sukkel om te leer

(Dié artikel het oorspronklik in die tydskrif Baba & Kleuter van November 2012 verskyn.)

Mense het al opgemerk dat my kinders ’n “abnormale” liefde vir lees het. Vir my is dit nie abnormaal nie, want ek was as kind ook so. Ek het nie ’n doelbewuste poging aangewend om lesers groot te maak nie. Ek het net met my babas gedoen waarvan ek self die heel meeste hou: stories vertel, gelees, woordspeletjies gespeel, prentjies gekyk en lugkastele gebou. Net soos my ouers met my gemaak het. En iewers langs die pad het die wonderwêreld van lees “ingeskop”.

My beste raad: Lees vir jou kinders voor. As hulle skree: “Weer! Weer!”, lees die storie maar weer, al is jy hóé moeg. Maak storietyd spesiaal, en jy sal die res van jou lewe die vrugte daarvan pluk.
Die kenners is dit eens: ’n Kind gaan net lees as sy lief is vir lees, en om dié liefde te kweek moet ouers die voorbeeld stel en self lees, lees en lees. Waar en wanneer begin dit?

Vóór kinders skool toe gaan, sê dr. Michael le Cordeur, voormalige kringbestuurder van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement. “Onderwysers kan ’n kind leer lees, maar die liefde vir lees word tuis gekweek. Daar is dus ’n verskil tussen kán lees, en lief wees vir lees, en die grondslag daarvoor word in die ouerhuis gelê.”

Die Children’s Reading Foundation moedig ouers aan om elke dag 20 minute lank vir hul kinders voor te lees. Die voordele is baie: Dit versterk verhoudings, bevorder luistervaardighede en taalvaardighede, leer jou kind konsentreer en moedig nuuskierigheid aan. En natuurlik skep dit ’n sterk leesfondament. Met elke boekie wat jy van babadae af lees, is jy besig om jou kind se brein, ore en oë voor te berei vir latere leesvaardighede.

Voorlees vorder na saamlees en dit vorder na selflees. Dit beteken egter nie dat jy moet ophou voorlees sodra jou kind self kan lees nie. Voorlees bly ’n noodsaaklike deel van die leer-lees-proses.

’n Mens besef nie aldag hoe stresvol hul eerste skooljaar vir graadeentjies is nie, sê Zanne Kriek, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria. Die kleintjies is bang vir die hoof, vir die baie kinders, vir die vreemdheid. Die laaste ding wat ’n kind in gr.1 nóg moet hê, is akademiese spanning. En hoewel kinders glád nie ingevolge die huidige skoolleerplan veronderstel is om te kan lees wanneer hulle skool toe gaan nie, is onderwysers en opvoedkundiges dit eens dat die skole deesdae met só ’n spoed wegspring in gr. 1, dat kinders wat nie al voorskool blootgestel is aan basiese lettervaardighede nie, dikwels gou agter raak.

Vermy dit deur van babadae af ’n leeskultuur tuis te kweek met hierdie wenke.

Boekwurmwenke:

  • Maak ’n groot okkasie daarvan as kinders “groot genoeg” is om ’n eie bedlampie te kry sodat hulle ook saans — ná storietyd — vir ’n klein rukkie tjoepstil mag lê en “lees” (boekies deurblaai). Wie kan nou in elk geval net “woeps” aan die slaap raak as Mamma sê dis nou tyd? En as jy aand na aand uit jou warm kooi moet klim om sélf die liggie te gaan afsit en die boek uit daardie warm handjies te wikkel, koester daardie oomblik in die wete dat jou kind nie net bloot aan die slaap geraak terwyl hy “lees” nie. Hy het van die een droomwêreld ingeglip in die volgende een in. En dís mos fantasties!
  • Daar bestaan nie iets soos ’n kind wat nie van boeke “hou” nie. As hy of sy nie van boeke “hou” nie, het hulle bloot net nog nie die regte boek in die hande gekry nie. As die kind hou van sport, koop sportboeke, as sy hou van ballet, koop dansboeke, as hy mal is oor drake, koop diereboeke.
  • ’n Liefde vir lees word gekweek deur voorlees van babatyd af. Maak daardie storietyd ’n spesiale tyd. Maak snaakse stemme, groot oë, fluister — hou konsert. Jy hoef nie altyd te lees nie. Dink sommer partykeer jou eie stories uit. Kinders moet weet: stories is wonderlike goed!
  • Kleuters is mal oor rympies, veral as dit nog snaaks is daarby. Sodra hulle dit begin herken, wag ’n rukkie voordat jy die laaste woord van elke sin sê en kyk of die kind dit self kan sê.
  • Letterspeletjies in die motor is groot pret. Dit leer kleuters om solank die alfabet onder die knie te kry voordat hulle skool toe gaan. Vra hulle om ’n woord te sê wat begin met A, B, D ensovoorts. Later kan julle vorder na woorde wat rym met kat, mat ensovoorts, en groter kinders kan teenoorgesteldes gevra word. Of maak storiebeurte: een begin met ’n storie, en elkeen kry ’n kans om aan te las.
  • Vra die kinders om te probeer om al die winkels se name te lees terwyl julle in die hoofstraat afry. Al herken hulle net die uithangborde, is dit steeds goed vir letterherkenning.
  • As jy jou kinders wil beloon vir iets, beloon dan met boeke, pleks van kos of speelgoed.
  • Daar is oral by speelgoedwinkels flitskaarte te koop. Bêre dit in die motor en gebruik dit wanneer julle iewers wag. Kleuters wat gereeld letterspeletjies speel, sal gou drieletter-woorde soos pop, pot en kas begin optel. Prys uitbundig as hulle die woorde reg kan sê.
  • My kinders was van baie jonk af lief vir die kindertydskrif National Geographic Kids, wat ook in Afrikaans beskikbaar is. Die tydskrif is vol diereprente, speletjies en kompetisies en laat hulle baie belangrik voel as hulle al “tydskrifte lees”. Dis ’n goeie idee om vir Oupa of Ouma te vra om vir ’n kind se verjaardag vir hom of haar daarop in te teken.
  • Help jou kinders om hul eie boeke te maak. Skryf hul storie neer en laat hulle dit illustreer, en dan kram julle alles vas.
  • Sodra jou kind kort sinnetjies kan lees, smyt die groente-sterkaarte weg en maak boekelees-kaarte. Jy kan selfs met geld beloon: R2 per boek of R5 vir ’n dikke. Dit is “sakgeld” waaroor ’n ouer nooit sal spyt wees nie.
  • Gesels oor die temas wat in jou kind se gunsteling-boeke aangeraak word en kyk hoe en waar julle daarop kan uitbrei.
  • Maak seker jou huis is leesvriendelik met genoeg plek vir lekker opkrul met ’n boek. Sorg dat daar boeke is wat jou kind maklik in die hande kan kry. Jou kind moet boeke met plesier verbind, nie net met skoolwerk nie.
  • Daar is wonderlike boekwinkels wat heerlike naweek- en vakansieprogramme vir kinders aanbied. Maak ’n Saterdagoggend-uitstappie daarvan om kinders na boekwinkels te neem. Moedig hulle aan om rustig in die leeshoekies te sit en boeke deur te blaai en beloof hulle dan dat elkeen ná ’n uur een boek mag kies. Dit leer kinders dat lees ’n rustige ervaring is. ’n Mens hoef nie net in te hol en te koop nie.
  • Moenie jou eie lees hou vir wanneer die kinders slaap nie. Laat hulle sien hoe jy op die rusbank lê en ’n boek geniet, of in die motor lees terwyl jy by die skool wag. Hulle moet weet dat jy ook lief is vir lees.
  • Pleks daarvan om saam televisie te kyk, kan julle saam lees, al beteken dit jou kind blaai net deur ’n mooi prenteboek. Die tyd saam moet genotvol en ontspanne wees en nie soos werk of huiswerk voel nie.

Alle kommentaar word gemodereer.

Het u iets om by te voeg ?


Waarborg

Indien jy `n boek ontvang wat jou kind reeds besit, kan jy die boek in sy oorspronklike toestand en verpakking binne sewedae na ontvangs aan ons terugstuur. Ons sal vir jou `n ander boek stuur wat jou kind nie reeds het nie.

e-pos:
zelda@storietyd.co.za
Tel: 082 660 0554

Faktuur oplossings deur Invoices Online